Jeugkoor, Jeugkoor, Vrystaatse Jeugkoor…
“Jeugkoor wanneer ons sing, sing ons vir jou!”
Vir dekades het die Vrystaatse Jeugkoor hul stemme opgewarm net voor optredes reg oor Suid-Afrika om voor uitgelese gehore en musiekliefhebbers op te tree. Die hemelse klanke was die produk van maande se voorbereiding wat in sale opgegaan het en elke noot is voortgebring om die somtotaal van perfeksie in harmonie en melodie aan die gehoor oor te dra. Alles was die moeite werd wanneer sterk jong stemme deur die lug sweef: sluimerend, tergend, nostalgies, fortissimo… net om weer met die swaai van die koordirigent se hande ‘n swewende pianissimo voort te bring – almal perfek in gelid op die aangeduide metrum.
Om deel te wees van die Vrystaatse Jeugkoor was ‘n voorreg, ‘n belewenis, ‘n lewenswyse. En dit was nie almal beskore nie – net ‘n musikale elite groep met ‘n spesifieke stemkwaliteit was met ‘n kennersoor uitgesoek. Elke stem was uniek, elke keuring was goed beplan, want n goeie kerskoek word nie oornag gebak nie, en net so word stemme van uitstaande gehalte nie oornag verweef om n keurige sangprogram aan te bied nie.
En vir die wat koorsang nie beskore is nie, was daar die geleentheid om te luister. Sonder ‘n gehoor, is daar nie ‘n koor nie. Daarom het die Vrystaatse Jeugkoorlede ‘n besondere waardering gehad vir sy ondersteuners – “Vriende van die Jeugkoor” wat jaar na jaar die optredes bygewoon en ondersteun het. Sonder die ouers wat hulle kinders van ver af aangery om te oefen en op te tree, sou die Jeugkoor nie kon realiseer nie. Die opofferings was groot want die kinders is aangery van reg oor die Vrystaat. Die naweek oefensessies was n heerlike weersiens en die totsiens ‘n dal van trane…want musiek bring nie net mense bymekaar nie, nee, musiek bring harte bymekaar!
Om deel te kon wees van die Jeugkoor was om deel te wees van een groot ster wat sy strale in alle rigtings skyn. Mag die klanke van elke lied vir altyd in ons harte weerklink.
Soos maar altyd weer sê ons nog ‘n keer,
Jeugkoor vir Jou!!
Geskryf deur: Natasha Smit Ayres