Geskiedenis

HISTORIESE OORSIG VAN DIE ONTSTAAN, VESTIGING EN ORGANISASIE VAN DIE VRYSTAATSE JEUGKOOR – (Geneem uit Dr. Huibrie Verster se tesis, Die Vrystaatse Jeugkoor…1987, 31)

Omdat daar voor 1940 alreeds ‘n tradisie van koorsang in die Oranje-Vrystaat was, gevestig deur leidende onderwysfigure soos onder meer Lemmer en Roode, het dit as stimulus gedien vir die verdere uitbou van skolekoorsang. In 1964 realiseer ‘n ideaal van die Administrateur, sowel as die Direkteur van Onderwys in die Vrystaat, wanneer (Dirkie) De Villiers aangewys word om ‘n provinsiale jeugkoor van gekeurde hoerskoolleerlinge saam te stel.

Die taak wat op De Villiers se skouers gerus het, was om ‘n modus operandi te vind waarvolgens die koor kon funksioneer. Hy moes die doelwitte vir die totstandkoming van so ‘n koor formuleer en daarvolgens die res van die beplanning doen. Dit het die beleid in verband met keuring en aanname van lidmaatskap van koorlede, repetisies, koordrag, toere en konserte, koorpersoneel en finansiele werkwyse op verskillende terreine ingesluit.

Toe De Villiers na tien jaar as dirigent en hooforganiseerder van die Jeugkoor uittree, kon hy terugkyk op die suksesvolle stigting en verloop van die Jeugkoorprojek. Die koor het in tien jaar soveel aansien verwerf dat hy, as hoof van musiek, in die Vrystaatse Onderwysnuus van Julie 1975 (p. 30) skryf: “Vandag is daar baie meer aansoeke as wat die koor kan behartig en is al sy uitvoerings gewaarborgde konserte …” …Die koor (het) tot 1986 van krag tot krag gegaan, sowel wat artistieke gehalte betref as ‘n toename in landswye en buitelandse konserttoere.

Daarbenewens het die koor in die beginjare deurgans selfonderhoudend gebly. Alhoewel die Vrystaatse Provinsiale Administrasie ‘n jaarlikse subsidie van R2 500 geborg het, het die koor sommige jare ‘n netto wins van tussen R400 en R1 000 getoon.

Die effektiwiteit van De Villiers se aanvanklike organisasie blyk uit die feit dat na 22 jaar nominasies vir aspirant-kandidate nog volgens diseselfde sisteem wat deur De Villiers verfyn is, verkry (is). Voorwaardes tot aanname vir lidmaatskap (was) in wese nog dieselfde. Repetisies (het) ook op dieselfde terrein met dieselfde organisasie ten opsigte van vervoer-reelings plaas(gevind.)

Aangesien optredes nog steeds volgens uitnodigings en onder beskerming van borge plaas(ge)vind (het), het selfs die organisasie en administrasie hiervan weinig verander. Die finansiele aangeleenthede rakende die koor is tot 1986 steeds deur die Provinsiale Administrasie behartig.

Die implementering van die Jeugkoor-konsep in die Oranje-Vrystaat is so effektief toegepas dat ander Jeugkore in Suid-Afrika direk as gevolg daarvan tot stand gekom het.

(Redaksie: Jan-Erik Swart)
Die artikel is verkry vanaf: http://www.facebook.com/groups/4838312234/doc/10150185570232235/

Hoogtepunte in 22 jaar (1965-1986)

BESONDERE UITNODIGINGS EN GELEENTHEDE AS HOOGTEPUNTE(Geneem uit H. Verster, Die Vrystaatse Jeugkoor, 1987. 81-85)

  1. ‘n Moontlike uitstaande hoogtepunt gedurende die eerste tien jaar was ‘n uitnodiging deur die Suid-Afrikaanse Regering waarin die Jeugkoor genooi was om op 10 April 1968, tydens die inhuldiging van die Staatspresident, J.J. Fouche, in Kaapstad op te tree. Motivering van hierdie besluit was waarskynlik tweerlei van aard, want as gebore Vrystater sou die optrede van die Vrystaatse Jeugkoor by sy inhuldiging eerstens vir mnr. Fouche besondere persoonlike betekenis he. Tweedens het die koor teen 1968 alreeds ‘n uitvoeringstandaard bereik wat luister aan die geleentheid sou verleen. Hierdie bewering word bevestig deur die gunstige kommentaar wat na aanleiding van ‘n konsert wat op 5 April 1968 in Bloemfontein aangebied is, in ‘n plaaslike koerant uitgespreek is (Die Volksblad, 5 April 1968:13).  Dus het die koor, onder leiding van albei sy dirigente, De Villiers en Van Huyssteen, op 10 April 1968, ter ere van die geleentheid, voor die erediens in die Groote Kerk in Kaapstad, ‘n kort gewyde program van geestelike werke gelewer. Tydens die diens self het hulle die President toegesing: “Zie in genade en liefde neer op onze President, o Heer…’ (uit die Vrystaatse Volkslied) By die staatsbanket wat na die inhuldiging gevolg het, het die koor ten slotte drie sekulere werke voorgedra.
  2. Ook het die Jeugkoor gedurende Mei 1971 tydens die tienjarige Republiekfeesvieringe in Kaapstad, as die enigste uitgenooide koor uit die Vrystaat, opgetree. As deel van die amptelike feesprogram het hulle ‘n kort konsertreeks van vier uitvoerings in Kaapstad, Groenpunt, Pinelands en Stellenbosch aangebied.
  3. Vanwee die rol wat De Villiers en die Vrystaatse Jeugkoor in die totstandkoming van die Natalse Jeugkoor gespeel het, was bande tussen die twee kore gedurende die eerste tien jaar van die Jeugkoor se bestaan, besonder heg. Gereelde gesamentlike optredes is onder meer aangebied, byvoorbeeld gedurende Oktober 1969, September 1970 en weer in Mei 1971. Heel gepas bied die twee baanbreker-jeugkore op 8 Junie 1974, die jaar van De Villiers se uittrede as koorleier, ‘n gesamentlike uitvoering in die stadsaal van Johannesburg aan. Hierdie konsert was onder die stok van dirigent Edgar Cree, bygestaan deur die S.A.U.K. Junior Simfonie-orkes, en is ook direk deur die S.A.U.K. oor beide die Afrikaanse en Engelse radio-senders uitgesaai.
  4. Wasserman vermeld dat die Jeugkoor ook gedurende 1975 ‘n besondere eer te beurt geval het wat as ‘n verdere hoogtepunt in die koor se geskiedenis beskou kan word. Op 10 Oktober 1975 is die Taalmonument in die Paarl onthul en is die koor uitgenooi om tydens die geleentheid, saam met vier ander kore, op te tree.
  5. Die koms van televisie in Suid-Afrika was ‘n belangrike gebeurtenis wat ‘n nuwe era met besondere artistieke moontlikhede sou inlui. Hierdie medium bedien uiteraard ‘n baie groter gehoor as wat gewone konsertoptredes kan bereik. Ook in hierdie medium sou die Vrystaatse Jeugkoor insette lewer. Op 11 September 1977 word ‘n eerste optrede van die Vrystaatse Jeugkoor onder leiding van Wassermann as koorleier, in die program “Met Woord en Lied” gebeeldsaai. Daarna sou die koor jaarliks tydens die Junie-vakansie opnames vir beeldsending maak.
  6. ‘n Verdere hoogtepunt in die geskiedenis van die Vrystaatse Jeugkoor was ‘n uitnodiging van die vereniging “Vrienden van Zuid-Afrika”, om Vlaandere in September en Oktober 1978 te besoek. Hyman het as koorleier opgetree en konserte is onder andere in Zottegem, Meere, Velzeke, Aalst, Oostende, Gent en Heuverlee in Belgie aangebied. Optredes was hoofsaaklik in katedrale. Die koor het Parys ook besoek en in Londen ‘n uitvoering in Suid-Afrika-Huis gelewer.
  7. ‘n Verdere eer wat die koor in 1981 te beurt geval het, was om tydens die Republiekfees na die hooffeesvierings in Pietermaritzburg uitgenooi te word. Op 26 Mei het die koor, naas ander groepe, ‘n uitvoering as deel van ‘n reks prestige konserte, wat deel van hierdie fees gevorm het, gelewer.
  8. Nog ‘n buitelandse toer het in 1983 gevolg, toe die Vrystaatse Onderwysdepartement toestemming verleen het dat die Vrystaatse Jeugkoor op uitnodiging, die dertiende Zimriya Internasionale Koorfees in Israel, as deel van ‘n toer na Europa kon bywoon. In Junie 1983 het die koor vir ‘n toer deur Europa vertrek wat vanaf 24 Junie tot 20 Julie geduur het, met bywoning van die Zimriya-fees vanaf 4 tot 18 Julie. Volgens die koorleier, Wassermann, was die optredes ‘n unieke hoogtepunt in die ontwikkeling en artistieke ervaring van die koor wat verruimend vir hulle toekomstige ontwikkeling ingewerk het. (Word vervolg)

(Redaksie: Jan-Erik Swart)
Die artikel is verkry vanaf: http://www.facebook.com/groups/4838312234/doc/10150188235897235/

Invloed van die OVS Jeugkoor op die Natalse Jeugkoor

(Geneem uit Huibrie Verster, Die Vrystaatse Jeugkoor pp 143-160)

1. Stigting van die Natalse Jeugkoor

Die Vrystaatse Jeugkoor het vanaf 23-25 Julie 1967, in samewerking met die Provinsiale Administrasie van Natal, vyf konserte in Pietermaritzburg en Durban aangebied. … Tydens ‘n onthaal na afloop van die konsert het (die destydse Administrateur van Natal, T.J.A. Gerdener) Dirkie de Villiers versoek om ‘n memorandum op te stel waarin die organisasiewyse van die Vrystaatse Jeugkoor uiteengesit is. Die Administrateur het die aand verder die voorneme uitgespreek om ‘n soortgelyke koor vir begaafde kinders in Natal te stig.

By sy terugkeer in die Vrystaat het De Villiers so ‘n inligtingstuk opgestel wat aan Gerdener voorgele is. Met hierdie inligting as vertrekpunt, is die stigting van ‘n Natalse Skolekoorop 24 November 1967 deur die Uitvoerende Komitee van Natal goedgekeur. (Die naam “Natalse Jeugkoor is amptelik in 1973 aangeneem.)

J.H. (Hein) de Villiers, ‘n musiekinspekteur, is destyds aangestel as vaste koorleier met die opdrag om deur middel van keuring ‘n koor uit leerlinge van Natalse skole saam te stel. Die premiere van die koor het op 11 Oktober 1968 plaasgevind. … Vanaf 1972 tot 1973 (is) die bystand van ‘n hulpdirigent, A.H. Wasserman, verwelkom.

  • In 1970, tydens die 3de bestaansjaar van die koor, het Georg Gruber, afrigter van die Rhodes Kamerkoor in Grahamstad, die Natalse Jeugkoor uitgenooi om op grond van “‘n voortreklike standaard”, as gaste van sy koor in Grahamstad op te tree.

Omdat die twee jeugkore tot in die sewentigerjare die aktiefste en bekenste in Suid-Afrika was, is hulle dikwels saam vir optredes uitgenooi:

  1. 4 en 6 Oktober 1969: Uitvoering in Bloemfontein en Kroonstad
  2. 25 en 26 September 1970: Konserte in Durban en Pietermaritzburg
  3. 28 Mei 1971: Optrede op Stellenbosch as deel van die Republiekfeesvierings
  4. 8 Junie 1974: ‘n Uitvoering in Johannesburg saam met die Junior Simfonie-orkes van die SAUK.

Van hierdie optredes skryf Hein de Villiers die volgende: “Die konserte…met die OVS Jeugkoor, het ‘n noemenswaardige invloed gehad op koorleiers in Natal.”

(Redaksie: Jan-Erik Swart)
Die artikel is verkry vanaf: http://www.facebook.com/groups/4838312234/doc/10150205625747235/

Leave a Reply