SKKK en Coenie de Villiers betower by Klassique

Jan-Erik Swart oorhandig ‘n sertifikaat vir erelidmaatskap van die Vrystaatse Jeugkoor aan Coenie de Villiers.

TUINROETE NUUS – Die Suid-Kaap Kinderkoor onder leiding van Jan-Erik Swart het die pasafgelope Vrydagaand ‘n volgepakte gehoor in die Oudtshoorn-burgersentrum op hul voete gehad tydens hul Karoonagte met die SKKK en vriende- produksie met Coenie de Villiers, Alida Scheepers en Brittany Smith.

Ná ‘n volle dag van repetisies het die SKKK die verhoog betree en ‘n klassieke program liedere aangebied wat Mozart se Laudate Dominum met sopraan Brittany Smith, asook S le Roux Marais se Heimwee met sopraan Alida Scheepers, ingesluit het.

Die hoogtepunt van die aand was die gesamentlike optrede met Coenie de Villiers waar die SKKK sy komposisies Katedraal en Karoonag aangebied het.

Dirigent Jan-Erik Swart het ‘n verrassing vir Coenie voorberei wat net vóór Karoonag aan Coenie oorhandig is. 

Toe Coenie sy gebruiklike verhaal vertel het oor hoe hy sy oudisie vir die Vrystaatse Jeugkoor vyftig jaar gelede as graad-elf seun gedruip het, het hy huis toe gegaan en Karoonag geskryf. Jan-Erik het, as mededirigent van die Vrystaatse Jeugkoor 2014 reüniekoor, ‘n sertifikaat aan ‘n aangedane Coenie oorhandig waar hy as erelid van die Vrystaatse Jeugkoor aangewys is.

Die Suid-Kaap Kinderkoor trek die beste skoolkoorlede van sover as Ladismith, Stilbaai, Oudtshoorn, Mosselbaai, Hartenbos, George en Knysna en word tans onder die beste 500 amateurkore ter wêreld, volgens die IFCM-ranglys, beskou.

Suid-Kaap Kinderkoor onder leiding van Jan-Erik Swart

Source: https://www.georgeherald.com/Entertainment/Article/skkk-en-coenie-de-villiers-betower-by-klassique-202308070946