“HOU daardie n o o o o t!” dirigent Danie Hyman in aksie. Hyman se provinsiale koor vir volwassenes, die Vrystaat-Sangers, het in slegs sy tweede bestaansjaar reeds ‘n vol program. Die koorlede repeteer elke naweek en gaan deur die loop van die jaar op verskeie plekke in die Vrystaat, Noordwes, Noord-Kaap en Gauteng optree.
Foto: Charlé Lombard
Sobeth Bester
BEETHOVEN het gesê: “Musiek is die taal van die hart wat tot ander harte spreek.” En dit hét.
Nie net tot die hart van dirigent Danie Hyman nie, maar ook tot die harte van 49 Vrystaters wat feitlik elke naweek op eie koste hul vrye tyd opoffer om te kan sing.
Dié klomp is die Vrystaat-Sangers, die enigste provinsiale koor vir volwassenes in die land, wat verlede jaar gestig is.
Die koor was die breinkind van Hyman, uitgetrede superintendent van Onderwys: Musiek, voorheen ook jarelange dirigent van die destydse Vrystaatse Jeugkoor, wat nie by sy huis in Kroonstad kon stilsit nie nadat die Vrystaatse Jeugkoor ontbind is.
Hyman het oudisies in die Vrystaat gehou en só die Vrystaat-Sangers bymekaar gekry.
Vanjaar, in sy tweede bestaansjaar, gaan die koor reeds in minstens 20 dorpe en stede in die Vrystaat, Noordwes en Gauteng optree. Benewens gewone konsertoptredes, tree hulle ook in kerke op.
Die koorlede se ouderdomme wissel tussen 19 en 50 “plus” en hulle beoefen ‘n wye verskeidenheid beroepe. Onder hulle is onderwysers, ‘n sielkundige, haarkapper, studente en dosente, ‘n mikrobioloog, ‘n verpleegkundige, boere, ‘n ingenieur, kunstenaar en les bes ‘n musikant.
Talle koorlede is oud-Jeugkoorlede. Twee van hulle is Jan Jacobs en Anette Jonker (néé Rautenbach) van Kroonstad, wat albei in 1965 in die heel eerste Vrystaatse Jeugkoor van dirigente Dirkie de Villiers en Terstegen van Huyssteen gesing het.
Die groot gemene faktor is dat hulle lief is vir sing.
Daarom ry hulle elke naweek gedurende die eerste kwartaal Winburg toe vir die koorrepetisies. Daar word ook repetisies in Kroonstad, Bloemfontein en Bethlehem gehou. Dit was juis in Bloemfontein waar Die Volksblad die kooroefening bygewoon het.
Repetisies duur tussen vyf en ses uur. Daarom bring almal hul kosmandjies, koffieflesse en waterbottels saam.
Hyman het op een na al die liedere op die program self vir die koor verwerk. Die verwerkings van gewilde liedere is een van sy groot liefdes waarvoor hy al bekendheid verwerf het.
En die program klink soos musiek in jou ore: As jy aan eendag glo, Skipskop, When a child is born, Memories are made of this, Trein na Pretoria, Blue Suede Shoes, en vele ander gewilde, liedjies in Afrikaans, Engels, Europese en inheemse Afrika-tale.
Die koor sing die meeste van die liedere a capella sonder begeleiding.
Sowat vier nommers word met instrumente soos kitare begelei.
Soos Hyman dit stel: “ Die stem is die heel wonderlikste instrument.”
Die koor het nou 49 lede. Hyman sê ‘n paar van die soprane en tenore moes vanjaar onttrek omdat hul werk- en gesinsomstandighede verander het. Hy is nog op soek na veral tenoor- en sopraanstemme.
“Waar is al die oud-Jeugkoorlede? Hulle moet kom saamsing.”
Die chaperones en hulporganiseerders van die koor is mnr. Fanie en mev. Ria Ackerman van Bothaville.
Dié takie lê hulle baie na aan die hart want hulle het vroeër ook as chaperones van die Vrystaatse Jeugkoor opgetree.
“Geen moeite is vir hulle te veel nie. Hulle reis ook op eie koste agter die koor se optredes aan en help waar hulle kan met die organisasie van die optredes,” sê Hyman.
Vanjaar se koorlede is elf van Bethlehem(Nellie Kotzé, Debbie Venter, Ronel Jacobs, Sophia Herman, Janine Fourie, Amelia Swart, Ingrid van der Merwe, Sampie van Vuuren, Wian Pieters, Leon Badenhorst en Johan Steyn) , tien van Bloemfontein(Nina Jordaan, Chrismarie le Roux, Piet Bosch, Marilize Kirsten, Louise Hanekom, Hennie van Aswegen, Faantjie du Toit, Poena du Toit, Johnnie Hay en Johan Marais) , een van Brandfort(Chris Nortier) , een van Harrismith(Jacob den Heyer) , twee van Kestell(Pieter en Wimpie Mojet) , elf van Kroonstad(Anette Jonker, Marieta de Jager, Frances Muller, Felicity van Wyk, Karen Muller, Carla Steyn, Millie Sherrin, Riaan Grobler, Matthys Odendal, Frik Engels en Jan Jacobs) , drie van Odendaalsrus(Juan van der Schyff, Nippie van der Schyff en Jonathan Stiglingh) , drie van Riebeeckstad(Estie van Eeden, Leana van Eeden en Elmien Coetzee) , twee van Senekal(Angeli Potgieter en Ben Nel) , een van Ventersburg(Esther Delport) , twee van Viljoenskroon(Annilda Lessing en Erika van der Linde) en twee van Winburg(Menitza Gutter en Marcelle Botes) .
Konserte en kerkoptredes vir 1999 is: Winburg 13 Maart; Senekal 10, 11 April; Wesselsbron 24, 25 April; Hoopstad 8, 9 Mei; Bultfontein 22, 23 Mei; Heilbron 5, 6 Junie; Viljoenskroon en Klerksdorp 18, 19, 20 Junie; Pretoria 2 of 9 Julie; Harrismith 24, 25 Julie; Welkom 31 Julie, 1 Augustus; Sasolburg 21, 22 Augustus; Bethlehem 4, 5 September; Frankfort en Standerton 17, 18, 19 September; Kimberley 1, 2, 3 Oktober; Bloemfontein 16, 17 Oktober; Johannesburg 29, 30, 31 Oktober en Kroonstad 12, 13 November.
Gekry vanaf: http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/1999/02/6/7/2.html