Twee van VS sing plekke los in gesogte kore

1998/07/07

WERNER VAN COLLER, oud-leerling van die Hoërskool Salomon Senekal, Viljoenskroon, en nou lid van die Wêreldjeugkoor. MARTHINUS VAN DER WALT, oud-hoofseun van die Hoërskool Steynsrus en nou lid van die London Philharmonic Choir.

TWEE Noord-Vrystaters en voormalige hoofseuns van die Vrystaatse Jeugkoor beoefen nou hul sangtalent as lede van Europese kore in die buiteland.
Die twee jong sangers, albei lede van die Potchefstroomse Universiteitskoor, is Werner van Coller, seun van wyle mev. Moedjie en wyle mnr. Koos van Coller van die plaas Libanon, Viljoenskroon, en Marthinus van der Walt, seun van mnr. Fanus en mev. Theunsie van der Walt van Steynsrus.
Werner is ‘n oud-leerling van die Hoërskool Salomon Senekal in Viljoenskroon, waar hy op kultuurgebied uitgeblink het. Aan die einde van sy gr. 10-jaar is hy in die Vrystaatse Jeugkoor opgeneem, en in 1994 is hy aangewys as die koor se hoofseun.
Hy is nou ‘n student in Aptekerswese aan die Potchefstroomse Universiteit, en vir die derde jaar lid van die universiteitskoor onder leiding van mnr. Awie van Wyk.
In 1997 het hy verneem van ‘n wêreldjeugkoor, en het vanjaar besluit om vir ‘n oudisie te gaan.
Dié oudisie het voorbereide musiek, onvoorbereide bladsang, ‘n aria van jou eie keuse en ‘n evaluasie van jou stemomvang behels. Die musiek is deur die internasionale sentrum vir koormusiek in België aan die deelnemers voorsien, en die oudisies is in ‘n ateljee op die kampus van die Potchefstoomse Universiteit opgeneem. Die kassette is toe na België gestuur.
Die koor bestaan uit 90 lede van omtrent 46 lande wêreldwyd.
Werner was vanjaar die enigste van ses Puk-studente wat die oudisie geslaag het.
Vanjaar besoek die Wêreldjeugkoor Taiwan en die Filippyne. Alhoewel ‘n groot deel Vervolg op bl. 2
van die toer aan oefen afgestaan word, sal daar nege konserte gehou word, onder andere in Taipei en Manila.
Marthinus van der Walt, ‘n oud-hoofseun van die Hoërskool Steynsrus en ook ‘n besonder veelsydige skolier, is onlangs aangewys as lid van die Londen Philharmonic Choir.
Marthinus is vanaf Maart vanjaar in Londen waar hy ‘n aflos-onderwyser is.
Na aanleiding van ‘n koerantadvertensie het hy vir ‘n oudisie vir dié koor gegaan en dit geslaag. Na sy eerste repitisie sê hy: “dit was lekker, maar die musiek is bitter moeilik en hulle gaan bitter vinnig daardeur. Die mense wat saam met my sing is duidelik baie goeie sangers en dit is in nogal in ‘n mate vreesaanjaend om tussen sulke goeie sangers te staan en sukkel.” Van der Walt is nogtans binne ‘n maand in die groep ingesluit wat vir vier dae in die suide van Frankryk gaan optree.
Marthinus het reeds hier in Suid-Afrika met sy besonderse basstem bekendheid verwerf. As standerd 6-leerling aan die Hoërskool Steynsrus was hy nog te jonk om werklik ‘n oudisie vir die Vrystaatse Jeugkoor te ondergaan. Sy sangonderwyser het egter gevra dat mnr. Danie Hyman, die koorleier van die Vrystaatse Jeugkoor, net na Marthinus se stem moet luister. Hyman was so beëndruk met sy stem dat hy dadelik in die koor opgeneem is. Só was hy dan vanaf st. 6 tot 10 lid van die koor en ook in 1990 hoofseun van die koor. As student aan die Potchefstroomse Universiteit het hy vir vier jaar onder mnr. Awie van Wyk in die universiteitskoor gesing en hiér, soos in die Vrystaatse Jeugkoor solo-dele gesing. Vir twee jaar, as student en ook later as onderwyser in Wiskunde aan die Potchefstroom Boys High was hy ook lid van die Potchefstroomse sangroep, die Boulevard Harmoniste. Dié sanggroep stel jaarliks ‘n CD vry en is ook bekend vir hul jaarlikse optredes tydens die Klein Karoo Kunstefees op Oudtshoorn.
Mnr. Danie Hyman, koorleier van die Vrystaatse Jeugkoor in beide dié twee jongmanne se tydvak, sê dit is ‘n groot prestasie en ‘n besonder geleentheid vir dié twee jong sangers om hul talente in Europa te gaan beoefen en ook verder te ontwikkel.

Gekry by: http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/1998/07/7/1/5.html