Die 60ste reünie van die Vrystaatse Jeugkoor word van 21 tot 24 Maart in Bloemfontein gevier en sal met ’n konsert van oudlede van die geliefde koor by die Odeion afgesluit word.
Een van die reünie se organiseerders, Chris van der Westhuizen, het vertel waarom hulle die reüniekonsert vir vanjaar gereël het.
“Ek kan dit nie beter stel as wat Ronel Wall dit in ’n Facebook-plasing aan ons gestel het nie,” het hy begin. “Haar plasing lees: ‘Ek glo ook dat daardie saamwees met mede Jeugkoorlede net goed kan wees vir die gemoed.
’n Mens kan daardie saamwees met niks anders vergelyk nie. Mense wat nie koor sing nie, sal dit nooit verstaan nie’,” het Van der Westhuizen gesê.
Die gewildheid en opgewondenheid rondom die reünie kan gesien word in die deelname in die konsert.
“Ons het ongeveer 155 lede wat op ’n pre-registrasie opname aangedui het hulle kom,” het Van der Westhuizen vertel, “die werklike registrasies kom nog daagliks in en staan tans op net oor die 70.”
Oudlede van die Vrystaatse Jeugkoor hou elke 10 jaar ’n dekade reünie, en Van der Westhuizen hoop om die volgende een nog groter as ooit te maak.
“Hopelik sal ons vir die 70ste reünie ál 1288 lede wat oor die jare gesing het, van 1965 tot 1996, in die hande kry,” het hy vertel.
Volgens Van der Westhuizen moet oudlede wat oorlede is ongelukkig van die getal afgetrek word. “Daar is wel lede wat af en toe ’n reünie of sommer net ’n lekker bymekaarkom reël,” het hy ook bygevoeg.
Van der Westhuizen is self baie opgewonde oor die konsert, en vertel dis wonderlik “om ou bekende gesigte weer te sien en weer die lekker gevoel tussen mekaar te kan waardeer terwyl ons uit volle bors sing vir die Here!”
Die konsert, wat tydens die reünie gaan plaasvind, gaan op Saterdag 23 Maart om 19:30 by die Odeion plaasvind, en op Sondag 24 Maart sal die Reüniekoor by die erediens van die Geloofsentrum in Universitas ook hul bydrae lewer.
By: Warren Hawkins
Sourse: https://www.bloemfonteincourant.co.za/oudlede-van-die-vrystaatse-jeugkoor-hou-reuniekonsert/