2010/03/03
AL moes ek Sandra Nel in ’n sokkerskare ontmoet, sou dit
maklik wees. Geen mens kan so ’n bos rooi krulhare miskyk
nie.
Nie dat sy haar sommer tussen sokkeraanhangers sal begeef nie.
Dié boorling van Virginia is ’n operasanger en sowat 20
jaar al gevestig in Wene van waar sy as vryskut wyd en syd oor
Europa optree.
Ons gesels met haar jaarlikse besoek aan haar familie in
Suid-Afrika. Sy is allesbehalwe ’n sogenaamde vurige rooikop
en vertel met die grootste rustigheid hoe sy in 1992 met haar
laaste sente vir ’n oudisie in Wene gegaan het.
Aan die eindpunt van daardie rit het sy haar eerste aanstelling in
die mededingende Europese operawêreld gekry, in die Weense
Kamer-operageselskap.
Musiekreis
Sandra se musiekreis het op skool in Virginia begin toe die
onderwyser en koormeester Les le Roux haar ná ’n
sangklas aangesê het om agter te bly. Hy het haar potensiaal
uitgewys en met stembou begin. Later het sy in die Vrystaatse
Jeugkoor gesing.
Toe sy in matriek ’n studierigting moes kies, het sy op
mondhigiëne besluit waarvoor sy na die Universiteit van
Stellenbosch is.
Daar het sy sangles by Joy van Niekerk geneem.
Terwyl sy as gekwalifiseerde mondhigiënis in Bloemfontein
gewerk het, was die bekende Margaret van der Post haar
sangonderwyser en mentor.
Ook sy het gesê Sandra moet in Europa gaan sing.
Maar Sandra was rustig. Eers jare later, nadat sy ’n diploma
in opera en lied onder die befaamde Emma Renzi aan die destydse
Pretoriase Technikon behaal het en ’n tyd lank vir Truk-opera
gesing het, het sy gereed gevoel vir ’n professionele
loopbaan in die buiteland.
Tweede beroep
Deur al die jare het Sandra deeltyds as mondhigiënis bly werk;
nou nog. Dié tweede beroep is die rede waarom sy ná net
twee jaar by die Wien Kammeroper kon bedank en haar sonder
finansiële bekommernisse by die menigte vryskutsangers kon
voeg.
“Daar is ’n al hoe groter vraag na mondhigiëniste
in Wene. Ek is dus verseker van ’n inkomste in die tye wat ek
nie sing nie.”
Sandra “koop” as’t ware só ’n langer
lewe vir haar stem. “Ek kies net rolle wat my stem pas en
sorg ook dat ek nie te veel sing en my stem te vroeg uitput
nie.”
Repertorium
Sandra se repertorium sluit al die belangrike rolle vir ’n
jugendlich dramatische sopraan in – Tosca van Verdi, Leonora
in Beethoven se Fidelio, operas en operettes van Mozart, Puccini,
Johann Strauss, Humperdinck, Von Suppé en ander, in volle
mondering en in konsert-formaat.
“Ná byna twee dekades in Europa is my stem nog gesond en
nou reg vir die dramatiese rolle in Richard Strauss- en
Wagner-operas. Ek het reeds van dié rolle ingestudeer, soos
Salome (in Strauss se Salome), Ortrud in Lohengrin, Isolde in
Tristan und Isolde.”
Wanneer Sandra ’n kunslieduitvoering gee, soos verlede jaar
in November in Parys, sluit sy altyd Afrikaanse kunsliedere
in.
“Ek het in my program van Schubert-, Brahms en Wagner-liedere
ook Heimwee, Rooidag en Aandblom ingesluit, dit in Frans laat
vertaal en in die program laat druk sodat die gehoor die woorde kon
volg. Die mense was gaande daaroor.”
Vriende
Hoewel Sandra Duits vlot praat – “hoog-Duits, nie die
Oostenrykse dialek nie” – bestaan ’n groot deel
van haar vriendekring uit Afrikaanssprekendes in Wene.
“Ons het een keer ’n maand ’n diens in Afrikaans
waarvoor tussen 45 en 60 Suid-Afrikaners gewoonlik opdaag.
“Onder hulle is Johan Botha (tenoor), Wicus Slabbert
(afgetrede sanger en nou sangdosent) en Marelize Gerber
(koloratuursopraan saam met wie Sandra graag konserte gee).
Sandra is baie beslis dat sy ná haar sangloopbaan na
Suid-Afrika sal terugkeer. Maar solank sy as sanger in aanvraag is,
sal sy in Wene bly, want “as ek kan sing, is ek
gelukkig”.
Volksblad: ELRETHA BRITZ