Bekende stal kunswerke uit

2009-06-18

’n Bekende in die musiek- en kunstewêreld op Bethlehem, Nina Jordaan, hou einde Junie ’n eenvrou-uitstalling van haar skilderwerk by The Bread Bin Bistro in Pres. Burgerstraat op Bethlehem.

Nina, wat ook bekendheid verwerf het as sanger, is ’n oudlid van die Vrystaatse Jeugkoor. Sy vertel dat sy van kleins af gestimuleer is om te teken en te skilder. Sy het in ’n huis grootgeword waar pa, Pieter, en ma, Wimpie Mojet, hulle nog altyd in musiek en kuns uitgeleef het. Die Hollandse spreekwoord: “Soos die oude songen so piepen de jongen” kan seker nie waarder wees as by die kunssinnige en musikale Mojet-gesin van Bethlehem nie. Hier word soms deur die hele gesin gereeld pottebakkery beoefen en ook saam uitstallings gehou.

Pa Pieter Mojet se familie het lede wat operasangers in Nederland en Europa is, terwyl ma Wimpie se voorgeslagte ook van kuns en musiek aanmekaar gesit is. Haar ouma het klavier gespeel en gekomponeer en haar ma, Miemie Boonzaier, het geskilder en geteken. Miemie se neef was die bekende skilder Gregoire Boonzaier.

Dit is duidelik dat Nina ’n appel is wat nie ver van die musikale en kunstige voorgeslagbome geval het nie.

“Dit is nou eenmaal in my bloed en ek is maar te bly dat daar ietsie van die gene van Gregoire Boonzaier in my bloed bruis,” sê Nina.

Sy het van kleins af onderrig ontvang in klavier en sang. Op 12 jaar het die bekende Oos-Vrystaatse skilder wyle Eduard Wium haar onder hande geneem. Daarna het sy gereeld skilderye en handbeskilderde kaartjies op kunsuitstallings en kunsmarkte uitgestal. Dit het telkens vir haar ’n welkome sakgeldjie ingebring.

Onlangs het sy ook onderrig by die bekende Al Tiley op Clarens ontvang in waterverf, sowel as olieverf.

“Ek is baie lief vir landskappe en albei mediums. Ek sien ook my skilderye as geestelike aanbidding, want my talent kom van God af. Dit is dan eintlik vir Hom wat ek loof en prys, want Hy het die wonderlike talent gegee. Ek geniet dit om te skilder en kombineer graag my sang met skilder. Dit is baie lekker om ure te kan sing terwyl ek skilder. Veral as die mooie Oos-Vrystaat se landskappe jou so inspireer.

“My doelwitte is dan ook om met my sang en my skilder die boodskap en salwing van God oor te dra aan die wat my kuns geniet.”

Nina se eerste uitstalling is van 26 tot 29 Junie by The Bread Bin Bistro.

– Volksblad: Susan Maré

Gekry vanaf: http://www.volksblad.com/Xarchive/Vrystaat/Bekende-stal-kunswerke-uit-20100616