2009-01-05
Sommige lirieke reis ’n ver pad voordat hulle liedjies kry. Agter sommige liedjies van Suid-Afrikaanse kunstenaars skuil ’n paar baie interessante stories. Mariana Malan het ’n paar kunstenaars oor “die storie agter die liedjie” uitgevra.
Lize Beekman vertel die volgende oor ’n Sonneblom uit Bethlehem.
“Die storie agter die lied is ’n lang reis – letterlik en figuurlik. Dit het in Durban begin, en die eindbestemming was Kaapstad. My pad was gekaart deur Bethlehem en Bloemfontein, waar ek ’n vriendin moes oplaai Kaap toe. Sy het in daardie stadium deur ’n moeilike tyd gegaan.
“ ’n Sonneblom wat net buite Bethlehem langs die pad gestaan het, met die gesig na die son gedraai, het my tot stilstand gebring omdat dié blom van hoop en vrede ’n gepaste geskenk sou wees om troos vir hartseer te bring. Ek het die blom gepluk en dit saamgery tot in Bloemfontein, waar ek dit water gegee het. Die volgende stilhouplek was in Hanover, by Darlingstraat 3 – ’n gastehuis waar rus was ná ’n lang pad en ’n maaltyd met vars goed uit hul tuin, waarvan kappertjiesaad deel was.
“Die volgende dag het ek langs die pad in die Paarlvallei hanepootdruiwe gekoop wat die laaste skof van die reis tot by my geliefde Kaap selfs nóg soeter gemaak het. Die enkele gedagte ‘ek bring vir jou ’n sonneblom uit Bethlehem’ het ek op daardie reis, net duskant Bethlehem, in my geheue gebêre.
“Dit was eers twee jaar daarna dat ek die gedagte weer gaan haal het en die reis, die geskenk, die mooi, die liefde en die blom van hoop en vrede met die Kersverhaal in verband gebring het.”
*
Amanda Strydom vertel: “Ek vind dit soms nogal moeilik om te verduidelik wat die storie agter ’n liedjie is, want dit kom dikwels uit ’n baie persoonlike plek.
“Slippers van Satyn is vir my ’n viering van alles wat lig en vrolik en uitbundig is.
“ ’n Paar jaar gelede is ’n ontwerper gevra om skoene vir my en ’n paar ander sangers te maak vir ’n uitsending van Pasella. Sy het vir my die vrolikste paar wynrooi satyn-slippertjies gemaak en dit versier met strikke, pels en volstruisvere.
“Dis eintlik net vir die kyk, want ek sukkel om met hulle te loop! Hulle hang in my ateljee op ’n spesiale plek. Hulle is ook te sien op die omslag van my mini-CD Slippers van Satyn. Die paar skoentjies het my geïnspireer om Slippers van Satyn te skryf.
“Ek het met Eugène Marais se Dans van die Reën i n my agterkop ’n storie probeer skep met beelde wat eg Suid-Afrikaans is. Vreugde is ’n vroulike wese wat die reënboog op haar kop dra; die son woon in haar keel en die sekelmaan hang om haar nek. Sy het blomme in haar hare en sy dra slippers van satyn.
“Pantoffels sou hier ’n lomp woord wees.
“Ek wou hê mense moet wil dans as hulle dit hoor.
“En dit gebeur, veral met kinders – hulle ken die woorde uit hul koppe en sing saam.
“Die verspotte refreintjie ‘Dis die regte medisyne vir die skete en die pyne’ het sommer in my kop kom nesmaak terwyl ons besig was om te komponeer. En ons het dit in die koorgedeelte ingewerk.
“Toe ons dit die eerste keer in Holland sing, was dit my kitaarspeler, Floors Ooshuizen, se taak om dié refrein te praat-sing. Hy dag toe hy praat Hollands toe hy lostrek met “Dis die regte medisyne vir die skyte en die pyne” – ons én die gehoor was histeries.”
*
Andries Bezuidenhout van die Brixton Moord & Roof Orkes vertel die storie agter Fortuinverteller: “Met sommige lirieke spook jy lank. Ander kom spook weer by jou.
“Ek was halfpad aan die slaap toe Fortuinverteller my kom besoek het – iewers tussen Laingsburg en die Hexriviervallei.
“Ons, dis nou die Brixton Moord & Roof Orkes, was op pad Kaap toe vir een van ons seldsame optredes daar.
“Ek het die grootste deel van die pad bestuur, maar so teen skemer het Moord Greeff, ons tromslaner, by my oorgeneem.
“Die volgende woorde het in my kop begin draai: ‘Hierdie woorde en sinne het ek iewers geërf, maar die taal wat ek praat, het lank reeds gesterf. Ek het eendag vergeet waar kom ek vandaan, waar my huis is, my land is, of die klank van my naam.’
“Of só iets. Ek het dit in die donker neergekrabbel en later daaraan begin skaaf.
“Dit gaan oor iemand wat na ’n fortuinverteller gaan. Sy kan die toekoms voorspel, maar hy wil eerder oor sy verlede uitvind. Dis vir hom net so duister soos die toekoms. Dit gaan oor die soeke na identiteit.”
*
Rian Malan vertel van sy Trekboer: “Soos almal weet, is Kanada vrot van homesick Suid-Afrikaners wat in trane uitbars as jy vir hulle biltong bring of Die Stem speel.
“ ’n Paar jaar gelede het ek in só ’n gemeenskap beland, hoofsaaklik dokters en tandartse in ’n klein dorpie op die prêries. Een Saterdagmiddag het al die Boere-bannelinge bymekaargekom vir ’n braai.
“Ellende! Die sneeu was twee voet diep, die wind ysig, boerewors nêrens bekombaar nie.
“Ná ’n paar bottels Bolandse rooiwyn het ouens begin stry oor die keuse wat hulle gemaak het.
“Sommige het gesê die Mandela-jare was net ’n wittebrood, een van die dae maak hulle al die wit mense dood. ’n Ander het gesê: ‘Nooit, as ek geweet het wat ek nou weet, sou ek nie Pretoria verlaat het nie.’ Dis ’n vraagstuk wat wit mense in Afrika al dekades reeds teister. Jy voel dis onnosel om te bly, maar as jy wegtrek, los jy ’n groot stuk van jou siel agter. Ek het gedink: hier iewers skuil ’n storie, of ’n song.
“In my twintigerjare het ek self ’n jaar of wat in Kanada deurgebring. Meestal langs ’n verwarmer gebewe, maar ook in ’n band gespeel met ’n sanger wat homself Kid Lee genoem het.
“Daar was ’n stel drukke waarop ek en Kid ge- jam het, maar wat nooit tot ’n lied ontwikkel het nie.
“Ek het die drukke ver-Afrikaans en ’n koor geskryf wat die ding ’n heimwee-agtige Sophiatown-gevoel gegee het. En voilà – ‘Trekboer, o Mamma, ek wil huis toe gaan / Verlang maar ek is bang / Vir Afrika, o Afrika’.”
*
Coenie de Villiers se Karoonag het só ontstaan: “Ek het vroeg in my lewe besef dat ek byvoorbeeld nie provinsiale rugby gaan speel nie.
“In st. 9 op skool in Bloemfontein het ek dit toe goed gedink om vir ’n oudisie te gaan vir die Vrystaatse Jeugkoor, wat min of meer die ekwivalent was van provinsiale kleure in musiek.
“Een middag ná skool het ek met goeie moed my kleurbaadjie aangetrek en is ek terug skool toe vir ’n oudisie op die verhoog van die skoolsaal.
“Dirkie de Villiers was destyds die koorleier (geen familie nie!), en ek het my bes gedoen om darem op noot te sing. Helaas, dit was nie goed genoeg nie, en ek het die oudisie met lof gedop.
“Ek is daarna huis toe, en het daardie middag met ’n donker wolk van mislukking oor my kop die lied Karoonag geskryf.
“ Ironies hoe die lewe werk: Karoonag het deur die jare daarna bekend geword, en is die een lied waarvoor mense altyd vra.
“Daar is ook balans in die heelal: Jare daarna het ek ná ’n vertoning gestaan en CD’s teken, en siedaar, toe ek opkyk, vra Dirkie de Villiers of ek asseblief vir hom sy CD sal teken.
“Terwyl ek dit doen, vra hy toe die een vraag waarop ’n mens altyd hoop: ‘Waarom het jy nooit in my koor gesing nie?’
“Ek kon met groot binnepret en vreugde antwoord dat hy my gewoon gedop het!”
– Volksblad
Gekry vanaf: http://www.volksblad.com/Vermaak/Nuus/Afrikaanse-sangers-vertel-die-stories-agter-hulle-liedjies-20100616