2008-10-15
ZASTRON. – Jy hoor die Napolitaanse liedere – La Paloma, O Sole Mio en nog vele ander – en saggies word jy daardeur omvou. Jy ondervind daardie tintelende gevoel wanneer musiek jou streel.
Is jy op ’n gondel in Venesië, Italië, met ’n tenoor op die boot saam met jou? Nee, jy is op Zastron en die sanger is Lomon de Jager, ons eie operaster.
In 1983 en 1984 het De Jager in die Vrystaatse Jeugkoor gesing.
In 1984 het hy aan die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein gematrikuleer.
Daarna verwerf hy ’n driejaar-diploma aan die Universiteit van die Witwatersrand. Tydens sy diensplig was hy lid van die weermag se koor- en konsertgroep.
Nadat hy in rolle vir Sukovs gesing het, het hy in 1991 deur Duitsland getoer waar hy tot in 1998 in die Baden-operahuis opgetree het.
In 2005-’06 op ’n musiektoer in Wene, Oostenryk, lewer hy ’n uitvoering in die Katedraal van St. Stefan wat regstreeks uitgesaai is. Hierna word uitvoerings ook in Bratislava en Praag aangebied.
Hoewel De Jager nou aan die hoof van die Hoërskool Zastron se nuutgestigte kunste-akademie staan, is hy ook aan Vrystaat Opera verbonde.
– Volksblad:
alex van rensburg
Gekry vanaf: http://www.volksblad.com/Kontrei/Nuus/De-Jager-het-in-Europa-gesing-20100616