2010/03/26
Deur Martjie Roos | Foto’s: Lauren Mulligan
Noem enige plek ter wêreld en George Meiring was daar, daarom is sy blyplek soos ’n reisdagboek wat verklap waar hy oral getoer het.
Stap jy by die minnesanger George se huis in Constantiakloof in, kom groet Storm, Seth en Zara, sy drie Siberiese huskies, eers vriendelik en natsnoeterig.
“Toemaar, hulle sal nie byt nie,” stel hy gerus terwyl hy liefderyk oor hul lang hare streel.
George Meiring is ’n “nomadiese” sanger. Noem enige plek ter wêreld en hy was al daar.Sy optredes het hom al van Londen, Mauritius, die Seychelle en Nieu-Seeland tot Italië, Marokko, Spanje en Libanon geneem. Maar oos, wes, tuis bes.
“Ek geniet dit baie om te reis, maar dit is altyd baie lekker om huis toe te kom.
“Ek mis maar my ma se boerekos as ek weg is. En dit is altyd lekker om voor Suid-Afrikaanse gehore op te tree.”
Sy blyplek verklap duidelik waar hy al getoer het. Daar’s byvoorbeeld drie houtvensters van Marokko, ’n houtkas van Indië en twee antieke kameel-leersakke van Marokko. Elke aandenking vertel ’n ander storie. Die klein staalhandsakkie kom byvoorbeeld van Rusland, verduidelik hy.
Die blou hortjiesvenster met ’n spieël wat in sy spaarkamer pryk, “kom sommer van Mr. Price in Suid-Afrika”.
“Ek koop nie alles oorsee nie.”
Maar waarom hou hy dan juis so baie van vensters?
“Ek het nie ’n obsessie met vensters nie, maar wel ’n obsessie met mense se oë. ’n Mens se oë is die vensters van sy siel en daarom het vensters vir my ’n besonderse betekenis.”
Die aantreklike George het ’n ondeunde seunsglimlag wat seker menige bewonderaar se hart vermurwe. Voeg daarby sy melodieuse stem en jy kry sommer ’n uitklop-kombinasie op die verhoog.
Sing, dié kan en mag hy maar. TV-kykers het hom in die eerste Supersterre-kompetisie beter leer ken. En vir dié wat nie mooi kan onthou nie, hy was die naaswenner in dié nasionale talentsoek-kompetisie. (Shaun Taite het daardie jaar gewen.)
Het hy eers met Supersterre die sangwêreld betree?
Nee, die passie kom van kleintyd, lig hy my gou in. George vertel hy is ’n boerseun van Wesselsbron se wêreld wat van kleinsaf en op skool in elke konsert gesing het. “Ek het my eerste sangkompetisie gewen toe ek vyf jaar oud was, maar my sussie en boetie was darem aan my sy om my te help!”
Toe hy in gr. 11 was, het hy sy eerste smakie van Europa gekry toe hy saam met die Vrystaatse Jeugkoor as solis getoer het.
“Tydens daardie koortoer het ek net geweet dit is my passie en dit is wat ek wil doen,” sê hy. Op 19 wen hy die radiostasie OFM se sangkompetisie en dieselfde jaar wen hy ook The Star Model of the Year-kompetisie.
Nie lank daarna nie moet hy sy tasse pak vir Milaan; hy is deur ’n modelagentskap gekies om modelwerk in Italië te doen.
Maar hy het steeds sang bo modelwerk verkies en net gehoop ’n groot deurbraak kom die een of ander tyd.
Dit was sy ma, Mary, wat ook vandag as sy bestuurder optree, wat hom aangemoedig het om vir Supersterre in te skryf.
“Ek was te oud om vir Idols te kwalifiseer en het toe besluit om maar te probeer.
Tydens Supersterre het George een groot les geleer:
“Wees jouself. Mense is nie onnosel nie en sien baie gou deur jou.
“En wees nederig, anders gaan die publiek jou nie steun nie.”
George se tweede album, Ek glo in môre, wat vroeër vanjaar uitgereik is, weer- spieël baie meer die ware George as sy debuutalbum, Onthou die tye.
“Ek is maar ’n groot sucker vir romantiese liedjies en die soort musiek wat Michael Bublé en Josh Groban sing.”
Sy toekomsdrome in ’n neutedop: “My grootste wens is dat ek oor 20 jaar steeds in die musiekbedryf sal wees. Ek wil vir altyd sing.
“Maar ek wil in die toekoms beslis meer tyd in Suid-Afrika deurbring en minder rondrits.”
Onderskrif: Heel links: George by sy antieke Indiese kas.Onderskrif: Links: Modelspeel is niks vreems vir George nie. Onderskrif: Bo: Storm, Seth en Zara, sy drie getroue vriende.
Gekry vanaf: http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2010/03/26/RT/10/george.html