2008-05-20
BETHLEHEM. – Mnr. Andries Wassermann (79), dirigent van die vroeëre Vrystaatse Jeugkoor en voormalige vakinspekteur in musiek aan die Vrystaatse departement van onderwys, is Maandagnag in die Bethlehem-aftreeoord oorlede weens verswakte gesondheid.
Met Wassermann se dood eindig ’n weergalose koortydperk op Bethlehem en in die Oos-Vrystaat. Hoewel hy in 2001 die koortuig amptelik neergelê het, het oudkoorlede in samewerking met hom daarna hard gewerk om vyf bundels saam te stel van ’n keur van sy koorverwerkings.
Wassermann se koorloopbaan strek oor meer as 50 jaar.
Dié Vrystaat-seun en boorling van Verkeerdevlei het sy hele lewe aan koorwerk gewy as dirigent, liedverwerker en -komponis, vertaler van liedtekste, orrelis (kwarteeu in verskeie kerke) en talle ander terreine in die musiekwêreld.
Hy het aan die Hoërskool Brandfort gematrikuleer en hom daarna vir die B.A. Admissiekursus aan die Potchefstroomse Universiteit ingeskryf. Ná sy teologiese opleiding aan die Universiteit van Stellenbosch (1952) was hy hulpprediker, eers op Bethlehem en later op Graaff-Reinet.
Hy wou egter liewer onderwyser wees, is terug na Stellenbosch vir onderwysopleiding waar hy ook as koordirigent gepresteer het.
In die jare vyftig het hy ’n onderwyspos as taalonderwyser aan die Hoër Handelskool op Bethlehem (nou die Hoërskool Witteberg) aanvaar.
In dié tyd het hy ’n bloeitydperk vir koormusiek op Bethlehem begin wat wyd en positief sou uitkring na die res van Suid-Afrika. Hy het ’n meisiekoor gestig asook ’n seuns- en mannekoor en bekende soliste genooi om saam met die kore op te tree en plate gemaak.
In 1969 is Wasserman aangestel as vakinspekteur vir musiek in KwaZulu-Natal, het mededirigent van die Natalse Jeugkoor geword en oorsee met dié koor getoer. Hy het in 1974 vakinspekteur vir die Vrystaatse Onderwysdepartment geword en die Vrystaatse Jeugkoor tien jaar lank gedirigeer.
Cantus Choralis is in 1988 gestig en het sewe jaar onder sy leiding gesing.
Daarna het hy die Bethlehem-kamerkoor gestig wat tot en met sy aftrede in 2001 onder sy leiding gesing het.
Wassermann het vroeër aan ’n verslaggewer gesê daar was soveel hoogtepunte in sy koorloopbaan dat dit moeilik is om uitsonderings te maak.
Hy onthou die jaarlikse sangfeeste op Stellenbosh, massakooruitvoerings in ’n stampvol Durbanse stadsaal, ook in Pietermaritzburg, die tien jaar lange optredes saam met die Vrystaatse Jeugkoor en ook die keer toe dié koor onder sy leiding in die St. Petruskerk in Rome gesing het.
Onder sy leiding het koorliefhebbers ook die premières beleef van drie Boheemse Bauernmessen (Boeremisse) deur Cantus Choralis van die Oostenrykse komponis Annette Thoma en nog ’n Boheemse Herdersmis van die Boheemse komponis Jakub Jan Ryba.
In al die gevalle het Wassermann sowel die koorverwerkings as die vertaling en berymings van die oorspronklike Duitse teks gedoen.
Die dood van Wassermann is die einde van ’n besonderse era in die koorwêreld wat hy met soveel toewyding, ywer en onderskeiding gedien het.
Dit is ook die einde van ’n besonderse tydperk in die Bethlehemse musieklewe. – Wassermann se vyf koorbundels word deur Libri op Bethlehem uitgegee en is ten bate van liefdadigheidsorganisasies. Bel Libri vir navrae by 058-303-5317. – Wassermann word oorleef deur sy suster, mev. Carolien de Wet, en haar man, Koot, van Bethlehem, vyf susterskinders – mnr. Christoff de Wet van Heilbron, mev. Hendriëtte Stafford van Bloemfontein, mev. Martie du Plessis van Pretoria, mnr. Jacobus van die Wath van Brandfort en mev. Marietjie Bouwer van Pretoria. – Die roudiens is môre om 11:00 in die NG Moederkerk op Bethlehem.
– Volksblad: Susan Maré
Gekry vanaf: http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/Bekende-dirigent-sterf-20100616