2008-05-14
As die koorsang Saterdagaand in die NG kerk Universitas jou lus maak om self te sing, wees gerus, jy gaan jou kans in samesang tussen koornommers kry. Jan Elsenaar sal dié sang op die orrel begelei en ook enkele van sy bekende improvisasies speel.
Die hoofdis op die program is egter die kore – dié van die Hoërskool Fichardtpark en Melodia onder leiding van Joanita Erasmus, Te Deum Laudamus, die Laerskool Jim Fouché en die Suid-Kaap-kinderkoor.
Jan-Erik Swart, vroeër lid van die Vrystaatse Jeugkoor, lei dié besoekende koor. Olive Sandilands is die begeleier.
Die massa-koornommer waarmee die aand afsluit, beloof om die kerk se dak te lig. Anton Esterhuyse, bekende Bloemfonteinse pianis en musiekleier, het ’n lied vir die geleentheid verwerk. Hy en Joanita begelei die koor op klavier en orrel.
Mense hoef nie te vrees dat die aand uitgerek sal wees nie. Al die kore word tot twee of drie nommers beperk.
Die konsert begin om 18:30. Kry kaartjies (R30) by die Hoërskool Fichardtpark, 051-522-6927, of by die deure.
– Volksblad
Gekry vanaf: http://www.volksblad.com/Vermaak/Nuus/Kooraand-met-samesang-20100616