Afro Pop
Vier aantreklike mans in donker pakke en spierwit hemde. Vier uitsonderlike stemme. Oorspronklike Afrikaanse musiek en internasionale treffers. Romanz is ‘n nuwe groep wat die land soos ‘n stormwind gaan tref. Hul debuut-CD beloof om een van die groot treffers van die jaar te wees.
Die groep bestaan uit André Venter, Louis Loock, Burgerd Botha en Adam Barnard. Hulle het deur ‘n reeks baie streng oudisies gegaan tot hul eindelik gekies is om deel van Romanz te wees.
“Ek sing my lewe lank,” sê Louis (27). “Ek het op skool aan verskeie kunswedstryde deelgeneem en ook onder my pa, Hennie Loock, in die Tygerberg Kinderkoor gesing. Ná skool het ek drama by die Universiteit van Stellenbosch studeer en ook ‘n honneursgraag in fisieke teater en mimiek gedoen. Ek is die afgelope vier jaar ‘n professionele sanger.”
André Venter is 28 en van Welkom. Hy het ook reeds op skool begin sing en was op ‘n tyd ‘n student van Philip Kotzé in Bloemfontein. Tussen sy singery deur, werk hy vir die familie se motorbesigheid in Welkom.
Adam Barnard (23) is ‘n boerseun van Sasolburg, maar sang was nog altyd deel van sy lewe. Hy was lid van die Vrystaatse Jeugkoor en het sy graad ses-kwalifikasie in sang. Maar Adam het ook ‘n sakebrein – hy is besig met ‘n graad in ondernemingsbestuur deur Unisa. Hy is amper twee jaar professionele sanger en het vir nege maande in Spanje opgetree toe sy paaie met Neil Schoombie, voorheen van die groep Hi-5, gekruis het. Neil het hom laat weet van die oudisies en kort voor lank was Adam lid van Romanz.
Burgerd Botha (21) is ‘n kitaarspeler van formaat, maar sang was ook nog altyd deel van sy lewe. Hy was lid van die Jakaranda Jeugkoor asook Universiteit Pretoria se Jeugkoor. Hy het toevallig van die oudisies vir Romanz gehoor. Die eerste oudisie was in Gauteng, vir die tweede het hy Kaap toe gevlieg.
“Dit het alles vinnig gebeur, maar ek is baie opgewonde oor die toekoms,” sê hy. “Ek het die ander ouens in die groep nou eers ontmoet en leer ken, maar ons is reeds soos broers. Ons het soveel in gemeen en ek glo Romanz gaan ‘n groot sukses wees.”
“My droom vir Romanz is dat ons vir mense nie net gaan vermaak nie, maar vir hulle musiek gaan bring met sterk melodieë én sterk lirieke,” sê Louis. “Suid-Afrika is reg vir musiek soos hierdie.”
“Dit is tyd dat daar weer glans teruggebring word na musiek in Suid-Afrika,” sê Burgerd. “Ek glo ons gaan baie ondersteuning kry omdat dit ‘n vars konsep in veral Afrikaans is.”
“Die groep het ‘n klassieke aanslag, maar dit is tog modern,” sê Kosie van Niekerk van Select Musiek. “Hierdie is ‘n groep wat nie een treffer gaan hê en dan gaan verdwyn nie. Ons is ook baie trots dat daar soveel oorspronklike Afrikaanse liedjies – deur mense soos Nicholis Louw, Neil Schoombie en Sean Butler – op die album is. Hierdie is beslis ‘n groep wat nog lank met ons gaan wees.”
Gekry vanaf: http://www.entertainmentafrica.mobi/music/view/artist/2809