2012/12/19
DIE beminde en bekende Goudvelder Natasha Rossouw is een van die beoordelaars tydens die streekuitdunronde van die jaarlikse Spontaan-kompetisie in Welkom.
Natasha het al die verhoog met bekende sangers in die Suid-Afrikaanse musiekwêreld gedeel en sy het al skouers geskuur met sangers soos Steve Hofmeyr, Yvonne Chaka-Chaka, Lucky Dube, George Meiring, Tolla van der Merwe, Freddi Nest, Billy Forest, Patricia Lewis en Jody Wayne.
Natasha skryf ook graag liedjies en het die twee liedjies geskryf wat deur die Griffons-rugbyspan gespeel word wanneer hy op die veld draf.
Natasha is ’n gebore en getoë Goudvelder. Sy het voorheen die streekuitdunrondes van Spontaan gewen en was ook al ’n streekbeoordelaar van die prestige-sangkompetisie.
Natasha het as jong kind op skool reeds as lid van die Vrystaatse Jeugkoor onder leiding van Danie Heyman haar tegniese opleiding in sang ontvang. Ná skool het Natasha vir die groep In Time gesing en later het sy haar eie groep, Neptune, begin. Sy het ook vir die plaaslike groep Topaz gesing.
Sy was al in die toptien van Radio Oranje en Sanlam se sangtalentkompetisie. Sy het al die top-50 van Idols bereik, sy was ’n nasionale wenner in die Melodies-talentwedstryd, sy was twee keer in die top-15 in Supersterre en sy het ook tydens die Shell Road to Fame- kompetisie in die Superbowl in Sun City saam met Lucky Dube en Yvonne Chaka-Chaka opgetree.
Natasha sing graag op liefdadigheidsgeleenthede en tree as seremoniemeester en beoordelaar op verskeie gesellighede op. Sy is ’n gewilde keuse as sanger op korporatiewe gesellighede in Johannesburg.
Volksblad
Gekry vanaf: http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2012/04/19/VI/14/vivNATASHA.html