2006-07-19
DIE sterre het die afgelope week op die Volksblad-kunstefees geskitter en die blinkste ster was beslis ’n Oos-Vrystater van Bethlehem!
Jaritha Pienaar, Maluti se Spontaan-finalis, se ster het behoorlik Saterdagmiddag op die eindronde van die Spontaan-sangkompetisie op die Huisgenoot-Spontaan-verhoog geskitter.
Met haar eerste liedjie, Bohemian Rhapsody van Queen, het sy die gehoor al gaande gehad. Met haar tweede beurt, waar sy Thank you for loving me van Bon Jovi gesing het, het sy weer die gehoor aan haar voete gehad.
Vir Jaritha is een van haar drome bewaarheid.
Sy is as die wenner van die Volksblad-groep se nege gemeenskapskoerante aangewys.
Sean Else, aanbieder van die Spontaan-eindronde en kykNET se Afrikaanse Idols-kompetisie, het aan die gehoor gesê hulle moet dié gesig en stem onthou. “Die meisie kan sing en julle het haar vandag hier op die Spontaan-kompetisie gesien en gehoor.”
Vir Jaritha is sing amper soos fietsry of, soos vir menige 18-jarige, motorbestuur! Sy het reeds op driejarige ouderdom begin sing – dit nogal in die stort. Sy het haar suster, Brenda, wat heelwat ouer as sy is en wat in die Vrystaatse Jeugkoor gesing het, nageboots.
Sy het drie jaar sanglesse by Philip Kotze se sangskool in Bloemfontein geneem, waar Du Preez Stoltz, een van die Drie Tenore, haar sangmeester was. Sy neem die afgelope twee jaar nie meer les nie.
Dit beteken egter nie sy het ophou sing nie – haar optrede van Saterdag bewys dit! Sy was twee jaar gelede ook Maluti se finalis. Sy het toe derde geëindig.
Sedertdien het sy aan verskeie ander kompetisies deelgeneem, maar dit is veral op gesellighede en spesiale geleenthede waar sy die afgelope tyd opgetree het.
Dié gaan sy vir die volgende paar maande egter ’n bietjie verminder, want die volgende hindernis kom al hoe nader – die matriekeindeksamen.
Oor ’n paar weke is dit matriekafskeid en Maluti het ’n voëltjie hoor fluit dat ’n bekende Bloemfonteinse sanger haar metgesel gaan wees.
Jaritha wil graag van sang haar loopbaan maak, maar gaan haar ander passie, sport, ook verder beoefen.
Sy beplan om aan die Universiteit van Noordwes menslike bewegingwetenskap te studeer om haar as biokinetikus te bekwaam.
Pa Japie en ma Maritha is baie trots op haar. Ouboet Johan was ook Saterdag daar en dié is net so trots op sy kleinsus.
Jaritha is die hoofmeisie van die Hoërskool Witteberg.
Die Oos-Vrystaat het nog ’n ster gelewer! Arnold Motsau, Vrystaat se finalis en hoofseun van die Hoërskool Tweeling, het tweede geëindig.
– Volksblad: Lynda Greyling
Gekry vanaf: http://www.volksblad.com/Xarchive/Streek/MALUTI-Jaritha-n-blink-ster-20100616