VRYSTAAT: Wassermann se bundel gedruk

2006-07-20

’n BUNDEL met oorspronklike kerkkoormusiek verwerk deur die bekende koorleier Andries Wassermann het pas in die Libri-boekwinkel op Bethlehem verskyn.

Twee oudkoorlede van Wasserman, mevv. Alida Steyn en Joey Rodgers, het sowat ’n jaar kliphard saam met die koorleier gewerk om die eerste van ’n reeks bundels van sy gewilde liedverwerkings saam te stel.

’n Belangegroep, die Andries Wassermann-musiekpublikasiekomitee (AHW-komitee), is in Julie 2005 gestig om die publikasiebelange van Wassermann, wat die afgelope jare terugslae gehad het wat sy gesondheid betref, te behartig.

Steyn het aan Vrystaat gesê: “Ons het ’n lojaliteit teenoor hom, ’n agting en liefde wat ons al so baie jare met dankbaarheid en vreugde in gesamentlike musiekbelewing gevul het.

“Ons ken sy uitsonderlike talente by die skryf en verwerking van koormusiek – ’n skat wat ons vir Suid-Afrika se huidige koorleiers gun. Ons gaan dit ons taak maak om hierdie erfporsie te orden en te dupliseer in geestelike sowel as sekulêre bundels.”

Die eerste volume bestaan uit 60 kerkkoorliedere en 26 Kersliedere.

Talle van die liedere is driestemmig verwerk sodat kerkkore dit maklik kan bemeester.

Uit die Kersliedere-afdeling is daar ook ’n eie komposisie van Wassermann, ’n Kindjie is gebore, wat ’n treffer op een van die Vrystaatse Jeugkoorprogramme, toe hy nog dirigent van dié koor was, was.

Wassermann het ’n gawe gehad om musiek vir kore te verwerk.

Die bundel bestaan uit drie- en vierstemmige liedere en hy het selfs hier en daar diskant-stemme bygeskryf. Die liedere is vir verskeie kore wat onder sy leiding gesing het, verwerk, waaronder die Cantus Choralis-dorpkoor, die kerkkoor van die NG kerk Bethlehem-Panorama waar Wassermann jare orrelis was, en die Bethlehem-dorpkoor.

Die bundel kan by Libri in Rouxstraat 30 vir R50 (R10 ekstra vir bestellings per pos) aangekoop word. Libri hanteer ook die kopiëring en verspreiding.

Eduard Wium, ’n skilder van Bethlehem, het die omslag jare gelede vir die plaatomslag van Wassermann se koor van die destydse Hoër Handelskool op Bethlehem ontwerp.

– Volksblad: Susan Maré

Gekry vanaf: http://www.volksblad.com/Xarchive/Streek/VRYSTAAT-Wassermann-se-bundel-gedruk-20100616