2006/11/02
’n OUD-WELKOMIET is besig om goed vir homself in die musiekbedryf naam te maak.
George Meiring is tans in die topvier in Patricia Lewis se SuperSterre-sangkompetisie en die spanning loop hoog.
Goudvelders kan Vrydae om 18:00 op SABC2 kyk wat met George gebeur.
Hy het sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Bultfontein begin, maar daarmee saam het sy sangloopbaan reeds aan die gang gekry toe hy al in gr. 1 saam met die hoërskoolkoor gesing het. Vanaf gr. 3 was George in die Laerskool Nelsdrift en hy het sy skoolloopbaan aan Welkom-Gimnasium voltooi.
Saam met sy broer, Bertus, en suster, Anne, het hulle as die Meiring-trio verskeie kompetisies gewen.
George se ma, Mary, sê: “Hy het veral in Nelsdrift op elke konsert gesing, asook op kunswedstryde waar hy feitlik elke keer ’n A+-simbool gekry het.”
Dié jong man het egter ook in rugby, kortafstande, hoogspring en hekkies uitgeblink. Hy was dan so ook deel van die Noord-Vrystaatse plattelandrugbyspan.
In gr. 11 is George vir die Vrystaatse Jeugkoor gekies wat in Europa gaan toer het. Hy het as solis tydens dié toer opgetree. Met die Lighuis-bedieninge in Welkom se eerste diens het George saam met Carolien van Zyl opgetree.
George het vir ’n ruk ook modelwerk gedoen en het onder meer vir New Face modelwerk in Milaan gedoen.
“Op 19 het George aan ’n kompetisie op OFM (toe Radio Oranje) deelgeneem wat hy gewen het. Hy was die enige een in die kompetisie wat ’n liedjie in die toptien gehad het sonder om ’n CD op die rak te hê.”
George het so vyf jaar gelede vir die koninklike gesin in Saoedi-Arabië gewerk waar hy na belangrike mense moes omsien. Só het hy die wêreld vol gereis, oral gesing en talle bekendes ontmoet.
“Hy het vroeër vanjaar na Suid-Afrika teruggekeer omdat hy huis toe verlang het. Volgens hom is dit die beste land in die wêreld. Ek het hom toe omgepraat om aan dié kompetisie deel te neem. Hy word nou oral op straat voorgekeer en is sedert sy verskyning op die program al vir talle optredes bespreek, soms tot twee op ’n dag,” sê sy trotse ma.
Volksblad:
Gekry vanaf: http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2006/11/02/VI/18/vivgeorge.html