Oudwenner van Noot vir Noot oorlede

2005-08-18

BETHLEHEM. – Een van die eerste Noot vir Noot-wenners van dié SABC2-program op televisie en ‘n bekende oud-Bethlehemiet is oorlede.

Me. Riana van Wyk (42), een van die begaafste leerlinge wat die Hoërskool Voortrekker op Bethlehem opgelewer het en dogter van bekende inwoners, is onverwags in Drieriviere, Vereeniging, oorlede, waar sy die afgelope drie jaar gewoon het. Haar ouers is mnr. Nellis en mev. Hannatjie van Wyk.

Riana het op vyfjarige ouderdom vioollesse begin neem by die bekende vioolmeester en dirigent van die Vrystaatse Jeugorkes, prof. Jack de Wet, en reeds as sesjarige saam met dié orkes as solis opgetree. Op skool het sy uitgeblink in sowel akademie as musiek. Nie net het sy haar matriekeksamen in 1981 met verskeie onderskeidings geslaag nie, maar onder leiding van haar musiekonderwyser, wyle mev. June Smit, die finale eksamen van Royal Schools of Music in klavier met lof geslaag. Sy is daarna vir ‘n oorsese studiebeurs aanbeveel.

Riana was ook drie jaar lank lid van die vroeëre Vrystaatse Jeugkoor.

Ná skool was sy ‘n student aan die Universiteit van die Vrystaat waar sy die B.Juris-graad behaal het en primaria was van Huis President Steyn op die kampus. Sy was met haar besonderse musiekkennis een van die eerste Noot vir Noot-kompetisie-wenners op SABC2.

Mev. Van Wyk, haar bekende orrelis- en musiekonderwyserma, sê sy en haar man is gebroke. Sy het verlede Vrydagaand nog met haar kind oor die selfoon gepraat en toe sy weer hoor, die volgende dag, was sy reeds so ernstig siek dat hulle nie meer kon kommunikeer nie. Hulle was magteloos om iets vir haar te doen. Sedertdien lees hulle haar laaste SMS’e oor en oor.

Riana het verkies om veras te word. Haar roudiens is môre om 11:00 uit die AP kerk op Bethlehem. Ds. Johan Jacobs sal die diens lei. Sy word ook oorleef deur ‘n suster, Maritha Swanepoel, ‘n broer, Eddy Mans, en ‘n jare lange vriend, Kobus.

– Die Burger Wes: Susan Maré

Gekry vanaf: http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/Oudwenner-van-Noot-vir-Noot-oorlede-20100616