2005-08-10
NOG nooit in my dag des lewens ‘n Viljee gesien wat ondergemiddeld is nie. Hulle is min of meer almal so slim soos die houtjie van die galg of so glad soos seep as hulle hulle die slag op ‘n rugbyveld bevind.
Sit hulle maar voor ‘n wiskundeklas, op ‘n rugbyveld, of voor ‘n koor, of enige plek waar vaardigheid en intelligensie nodig is, en kyk wat gebeur.
Ek weet nie wat Springboksenter Jean de Villiers se wiskundevermoëns is nie en of sy hart vir klassieke musiek (hopelik) brandend klop nie. ‘n De Villiers sonder (goeie) musiek in sy hart is in elk geval ondenkbaar. Maar dat hulle ónverwags soos ‘n vlakhaas doellyn toe kan hol as niemand dit verwag nie, dit weet ons met genoegdoening.
Nou nog meer is daar steeds twee Viljee’s van betekenis in Suid-Afrikaanse rugby. Daar’s Jean en daar’s wyle oom ML. Die een ‘n rugbyspeler en die ander die komponis van ons Afrikaanse volkslied. Drie Saterdae ná mekaar het hulle op ons ou volkie se hartsnare getokkel dat die trane spat.
Ons het uitgebreek in gille en vlagswaaiery en ‘n gekoordans toe Jean soos ‘n gedagte die bal onderskep en begin hol het. Toe hy druk, staan jy ook onder die pale, reg voor die televisieskerm, om te druk.
Maar ai, daardie oomblikke voordat hulle afskop. Daardie ou volkslied van ons. Jy sien die groen ry seuns daar voor duisende mense wat soos sardiens op die paviljoene ingeblik is. En ons Springbokke in daardie oomblik ernstig soos 18-jarige kategete voor ‘n preekstoel. Hul hande teen hul hart vasgedruk.
Sommige van hulle, soos Jean, staan meestal met toe oë as die volkslied gespeel word. Dalk om die dun emosies weg te steek en vir ‘n rukkie voor baie oë weg te kruip en alleen met homself te wees. Wat dink hy as hy daar met toegeknypte ogies staan?
Nie moeilik om te weet nie, want as jy daar staan, staan jy daar vir Suid-Afrika en alles wat hy was, is en nog sal wees. Dan bid jy.
En tjank wil jy tjank as jy iets vir hierdie omstrede landjie van ons voel. Selfs die onmusikaalste mens moet erken dat Nkosi i’Sikele nie die gewone soort volkslied is nie. Dit is heilige musiek daardie.
Dán volg natuurlik Uit die blou van onse hemel en vir daardie kort rukkie soetste Moedertaal knyp ons ons oë toe of sit so ‘n bietjie verder terug in die leunstoel by die huis sodat die ander mense by jou nie kan sien jy is eintlik nou op die punt om in trane uit te bars nie.
As dié deel van die volkslied weergalm, sit jy jou kasteeltjie of glas Oros eerbiedig neer. En skuif die biltongbakkie soontoe.
Kan dan nie help om dan altyd na legendariese oom Dirkie de Villiers te verlang of aan die arme geëmigreerdes (weghollers) daar in Kanada, Australië of Nieu-Seeland te dink nie. Wil nie weet waar is hul hart as ons volkslied gespeel word nie, maar ek kan raai.
Ons het oom Dirkie de Villiers, lankal saliger, geken, wat glo self in sy jong dae kookwaterrugby vir Boland gespeel het. Sy pa was die dominee wat die volkslied van Suid-Afrika in Simonstad se pastorie gekomponeer het.
Oom Dirk was ook ‘n welbekende musiekinspekteur van die Vrystaat toe musiek in die skole nog musiek was en daar ‘n Vrystaatse Jeugkoor was wat wêreldbekend was.
Dit was ‘n tyd toe die provinsie se musiekleerlinge, ondersteun deur die staat wat omgegee het vir Westerse musiek en kultuur, op klawerborde geskrum, gehaak en lopies gelewer het. Hulle het hul eie soort rugby gespeel met spelpatrone soos Johann Sebastian Bach se fuga’s, Mozart se rondo’s en sonates (vir flair) en dan het hulle die musiek afgesluit met kadense reg onder die pale wat nou nog in die lug van vergete sangklasse en musiekkamers by skole hang.
Daar was die Vrystaatse Jeugkoor onder leiding van dirigente soos Dirkie de Villiers, Tersteegen van Huyssteen, stigterlede, en later Andries Wassermann en Danie Hyman. Formidabele mense wat andersoortige Springbokdrieë gedruk het vir dit waarin hulle geglo het. Later was daar nog ‘n De Villiers met die naam Coenie wat liedere soos Karoonag in ons harte ingeskryf het.
En toe maak die jong De Villiers ons verlede Saterdag vir die soveelste keer rugbybly vandat ons hom ken.
Maar ons sal nederig bly omdat ons die All Blacks se stert geknoop het. Ons sal nie grootkop kry nie.
Oor twee weke sit ons weer daar in ons leunstoel en kyk hoe prewel sommige van ons helde die volkslied met toegeknypte ogies.
En as Jean weer ‘n drie druk, dié keer teen die windgat Wallabies, tjank ek kliphard hier op Bethlehem in my mooi land Suid-Afrika. Maak nie saak wie is by nie.
– Die Burger Wes
Gekry vanaf: http://www.volksblad.com/Rubrieke/GOEIEMORE-De-Villiers-driee-en-musiek-20100616