2005-06-01
MEV. NINA JORDAAN van Bethlehem is Maluti se Spontaanwenner.
Jordaan het Saterdag saam met 43 ander talentvolle sangers aan die kompetisie deelgeneem.
Vir Jordaan is musiek ‘n passie. Sy het as jong meisie in die skoolkoor gesing. Kort daarna het die Vrystaatse Jeugkoor gevolg.
Dit is egter onder leiding van die bekende koormeester Danie Hyman waar Jordaan die meeste geleer het. “Oom Danie het my beslis die fynere kuns van sang geleer. Hy was my mentor.” Jordaan kom uit ‘n musikale gesin. Haar ouers, mnr. Piet en mev. Wimpie Mojet, was ook lede van die Vrystaat-sangers.
Die Vrystaat-sangers het intussen ontbind. Jordaan het nie met optredes opgehou nie. Sy het op die Riemland-kunstefees en die Bieliemieliefees opgetree. Meer onlangs het sy saam met die Laerskool Truida Kestell se senior koor aan die Christusfees deelgeneem.
Jordaan is met Wessel getroud. Die egpaar se twee seuns Pieter (8) en Dawid (5) was baie bly toe hulle gehoor het hul ma is as Maluti se wenner aangewys.
Jordaan is opgewonde om op 16 Julie op die Spontaanverhoog aan die Spontaankompetisie deel te neem.
Melanie Wilson, ‘n leerling aan die Hoërskool Voortrekker, is as die naaswenner aangewys. Wilson het reeds in gr. 3 in die skoolkoor begin sing.
Sy ontvang sedertdien les by mev. Eunice de Villiers en beskou haar en mev. Jeanette Jacobsz as haar mentors.
– Die Burger Wes
Gekry vanaf: http://www.volksblad.com/Xarchive/Streek/MALUTI-Nina-sing-n-wenplek-in-Spontaan-los-20100616