2001/12/18
DIE einde van ‘n weergalose tydperk as koordirigent. Andries Wassermann (middel), dirigent van die Bethlehem-kamerkoor, het vanjaar die laaste keer opgetree en tree ná bykans 50 jaar amptelik uit die koorwêreld. Links van hom is mev. Mossie Erasmus wat lid was van die meisiekoor van die vroeëre Hoër Handelskool in Bethlehem wat in die jare vyftig deur Wassermann gestig is. Regs is Rory Rootenberg, ‘n oudlid van die Vrystaatse Jeugkoor wat deur Wassermann as sanger ontdek is en later self groot opgang in die Suid-Afrikaanse musiekwêreld gemaak het.
FOTO: SUSAN MARÉ
BETHLEHEM. – Die laaste geskiedkundige optrede van koordirigent Andries Wassermann (73) hier in die NG kerk Bethlehem-Oos is die afsluiting van ‘n koorloopbaan van sowat 50 jaar. Die Bethlehem-kamerkoor se gewyde Kersuitvoering 2001 het onder sy leiding die afskeidskroon gespan op ‘n weergalose bydrae, nie net in Bethlehem en die Oos-Vrystaat nie, maar ook op nasionale en selfs internasionale vlak.
Dié Vrystaat-seun het sy hele lewe aan koorwerk gewy as dirigent, liedverwerker en -komponis, vertaler van liedtekste, orrelis (kwarteeu in verskeie kerke) en talle ander terreine in die musiekwêreld.
Wassermann, ‘n boorling van Verkeerdevlei, het in 1945 aan die Hoërskool Brandfort gematrikuleer en was die enigste seun van wyle mnr. Hendrik en wyle mev. Hennie Wassermann wat in die distrik geboer het. Op 16 het hy hom vir die B.A. Admissiekursus aan die Potchefstroomse Universiteit ingeskryf. Sy koorwerk en orrelstudie het terselfdertyd in volle gang gekom. Ná sy teologiese opleiding aan die Universiteit van Stellenbosch (1952) was hy hulpprediker, eers in Bethlehem en later in Graaff-Reinet.
Hy wou egter liewer onderwyser wees, en is terug na Stellenbosch vir verdere studie waar hy ook as koordirigent begin presteer het en het onder meer ‘n koshuiskoor op die jaarlikse sangfees saam met Philip McLachlan gedirigeer.
Nadat hy ‘n tyd as onderwyser aan die Hoërskool D.F. Malan in Johannesburg gewerk het, het hy ‘n pos as taalonderwyser aan die Hoër Handelskool in Bethlehem (nou die Hoërskool Witteberg) aanvaar. Hy was 11 jaar lank taalonderwyser en het toe verskeie lisensiate in musiek aan Unisa verwerf.
Juis in dié tyd het hy ‘n bloeitydperk vir koormusiek in Bethlehem begin wat wyd en positief sou uitkring na die res van Suid-Afrika. Hy het ‘n meisiekoor gestig met wie hy dikwels getoer en ook plate gemaak het. Hy het ook ‘n seunskoor en ‘n mannekoor gestig en saam met soliste soos Sjoerd Beute, Martie Wege, Pat Marock, Dougie Yazbek, Kees Simon, die leerling Jeannette Hörnemann (nou Jacobsz) en ander gewerk. Soos nooit voorheen nie het Bethlehem en omgewing dekades van talle kantates, sangfeeste, massakore en Kersuitvoerings sonder weerga beleef.
Wassermann is in 1969 aangestel as vakinspekteur vir musiek, eers in die Indiër-onderwysdepartement in Durban, en daarna ook in die Natalse onderwysdepartement. Hy het mededirigent van die Natalse Jeugkoor geword en oorsee met dié koor getoer. In 1974 het hy vakinspekteur vir die Vrystaatse Onderwysdepartement geword en ook tien jaar lank die Vrystaatse Jeugkoor gedirigeer.
Cantus Choralis is in 1988 gestig en het sewe jaar onder sy leiding opgetree. Daarna het hy die Bethlehem-kamerkoor gestig, wat tot vanjaar onder sy leiding gesing het.
Wassermann sê daar was soveel hoogtepunte in sy koorloopbaan dat dit moeilik is om uitsonderings te maak. As hy egter terugdink, onthou hy veral daardie jaarlikse sangfeeste in Stellenbosch toe hy saam met Philip McLachlan gewerk het – ‘n dirigent van wie hy lewenslank inspirasie geput het.
Hy onthou ook die massakooruitvoering wat hy in ‘n stampvol Durbanse stadsaal gedirigeer het, massakore in die Pietermaritzburgse stadsaal, die tien jaar lange optredes saam met die Vrystaatse Jeugkoor en talle kooroptredes op ‘n kleiner skaal in Bethlehem.
Nog ‘n hoogtepunt was die keer toe die Vrystaatse Jeugkoor onder sy leiding in die St. Peterkerk in Rome gesing het.
Onder sy leiding het koorliefhebbers ook die premiéres beleef van drie Boheemse Bauernmessen (Boeremisse) deur Cantus Choralis van die Oostenrykse komponis Annette Thoma en nog ‘n Boheemse Herdersmis van die Boheemse komponis Jakub Jan Ryba deur die Bethlehem-kamerkoor. In al die gevalle het Wassermann sowel die koorverwerkings as die vertaling en berymings van die oorspronklike Duitse teks gedoen.
Die neerlê van die koortuig deur Andries Wassermann laat ‘n besonderse leemte in die koorwêreld wat hy met soveel toewyding, ywer en onderskeiding gedien het. Dit is ook die einde van ‘n besonderse tydperk in die Bethlehemse musieklewe.
VOLKSBLAD: Susan Maré
Gekry vanaf: http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2001/12/18/5/3.html