Dirkie de Villiers oorlede op Onrus

Mnr. Dirkie de Villiers

KAAPSTAD. Mnr. Dirkie de Villiers, voorste Suid-Afrikaanse musiekman, is gisteraand in sy huis op Onrus dood. Hy was 72 jaar oud. Mnr. De Villiers, voormalige hoof van skoolmusiek en dirigent van die Jeugkoor in die Vrystaat, is twee weke gelede uit die Tygerberg-Hospitaal ontslaan nadat hy met ernstige emfiseem daar opgeneem is. Hoewel sy toestand sodanig verbeter het dat hy na sy huis op Onrus kon gaan, het hy nog asemhalingsprobleme ondervind. Sy toestand het gister aansienlik versleg en hy is omstreeks 7.30 nm. oorlede. Dirk Izak Cattogio de Villiers is op 1 November 1921 op Simonstad gebore. Sy vader was die komponis van Die Stem, ds. M.L. de Villiers. Hy het die graad BA aan die Hugenote-Universiteitskollege op Wellington behaal, waar hy klavier- en orrelonderrig van Adrienne Joubert ontvang het. Later het prof. Eric Grant, dekaan van die musiekkollege van die Universiteit van Kaapstad, hom leiding in komposisie gegee. Hy was van 1941 tot 1954 as onderwyser verbonde aan skole op Vredenburg, Parow, Bellville en Grabouw. Van 1954 tot 1956 was hy senior dosent in skoolmusiek aan die Graaff-Reinetse Opleidingskollege, en in 1956 is hy as inspekteur van skoolmusiek in die Vrystaat aangestel. Hy was in 1974 tot hoof van musiek van die Vrystaatse Onderwysdepartement bevorder. Sedert 1956 tot sy vertrek na Onrusrivier was hy ook orrelis van die NG gemeente Bloemheuwel in Bloemfontein. Hy was die dryfkrag agter die stigting van die Vrystaatse Jeugkoor in 1964. Hy het dié koor tot in 1974 gedirigeer. In 1974 het hy met die orkestrale onderwysprogram begin, wat jare lank enig in sy soort in Suid-Afrika was. Hy was saam met dr. Gawie Cillié en prof. Jacques Malan verantwoordelik vir die Koraalboek van die NG Kerk. Hy het ook in die hersieningskommissie van die Psalm- en Gesangboek gedien. Hy het ook ‘n Afrikaanse vertaling vir Nkosi Sikelel’ iAfrika die lig laat sien. Hy laat sy vrou, mev. Doll de Villiers, ‘n seun, prof. Johan de Villiers (dirigent van die Libertas- koor), en drie dogters, mevv. Susan Metzmacher, Louise Alheit en Ilze du Plessis asook elf kleinkinders agter.

Die Burger: – Gekry vanaf http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1993/07/03/3/18.html